“Mamma ek is sooooo ‘BORED’ “

“Mamma ek is sooooo ‘BORED’ “

Hierdie is ‘n uitdrukking wat my so rukkie gelede sommer net laat sug het! Dit het beteken dat ek net moes los waarmee ek besig was om baie vinnig te dink wat my kind kan doen om haarself mee besig te hou. Dit het meeste van die kere opgeeindig met my kind wat voor ‘n skerm gaan sit en storie kyk sodat ek net my koppie koffie kon klaar drink of gou die skottelgoed kon was.

Tydens die inperkingstydperk in 2020 het dit na ‘n volgende vlak toe geskuif, want toe was daar nie  skool wat hulle op ‘n konstruktiewe manier kon besig hou nie. My kind was afhanklik van my om haar besig te hou. Ek het ‘n paar weke uitgehou en kon net eenvoudig nie meer nie. Een oggend het ek wakker geword, vir my koffie gemaak en net gaan sit…en dit gedrink (dit gebeur gereeld as n ma, dat jy koffie maak en nie kans kry om dit te drink nie). Kinders het in my ore gehuil en gekerm, maar ek het net gesit, sonder om enige iets te sê. Dit was chaos in die begin, maar dit het na ‘n paar minute stiller geraak en toe gebeur daar iets wonderliks: my oudste kind begin op haar eie speel met ‘n eierspaan en ‘n bal. Net daar het ek besef dat verveeldheid is nodig vir my kind. Vandag kry ek nogsteeds daardie uitdrukking, maar ek gee dit gewoonlik net so rukkie voordat my kind verdwyn in haar eie kreatiewe wêreld van spel en verbeelding. Sy het partykeer net so bietjie inspirasie nodig, dan hardloop sy self verder met dit. Dit is fantasties! Ek het gaan navorsing doen oor verveeldheid by kinders en het ‘n hele paar artikels daaroor gevind. Onder andere het Teresa Belton by “School of Education and Lifelong Learning” baie goeie redes gegee hoekom dit goed is vir kinders om verveeld te wees.

Volgens Teresa Belton is dit goed vir kinders om verveeld te wees vir die volgende redes:

  1. Verveeldheid stimuleer kreatiwiteit.
  2. Verveeldheid maak kinders meer gemotiveerd.
  3. Verveeldheid by kinders is ook goed vir ouers.
  4. Kinders ontwikkel uithouvermoë wat ook selfvertroue verbeter.
  5. Dit ontwikkel sosiale en interpersoonlike vaardighede wanneer kinders saam verveeldheid oorkom.

1. Verveeldheid maak kinders kreatief

Wanneer kinders verveeld is, forseer dit hulle om te dink aan iets wat hulle kan doen en dit is wanneer verbeelding inskop. Om jou verbeelding te gebruik berei ‘n kind voor vir die lewe, want enige iets kan gebeur. Dit is wanneer hulle met kreatiewe oplossings vorendag kom. Dit is wanneer eenvoudige objekte soos bokse, waterbottels of stokke, die beste speelgoed word. Kinders leer daardeur om aan te pas en probleme op te los en dit is baie belangrike vaardighede om te hê.

2. Kinders wat met tye verveeld is, is meer gemotiveerd

Wanneer ons kinders groot word, gaan ons nie altyd daar wees om hulle tyd te vul met opvoedkundige aktiwiteite nie, hulle gaan self besluite moet neem en verantwoordelikheid daarvoor moet vat. Om verveeld te wees gee hulle genoeg tyd om hulle eie besluite te neem en om hulle self te motiveer, sonder invloed van buite af. Dit is ‘n baie belangrike vaardigheid om te hê vir die toekoms.

3. Verveeldheid van kinders is ook goed vir ouers.

Wanneer ons, as ouers, ons kinders toelaat om verveeld te wees, beteken dit dat ons bietjie die leisels moet laat gaan en ons kinders moet vertrou. Dit is ‘n baie moeilike taak om te laat gaan, maar ook baie bevrydend. Dit is ook goed vir ons kinders om daardie vetroue te ervaar. Boonop gee dit vir ouers tyd om take te verrig sonder kinders wat heeltyd afhanklik is van hulle. Tyd is baie kosbaar, veral vir ouers, want die verhouding tussen ouers word gewoonlik bietjie afgeskeep, wanneer daar kinders is. Waarom dan nie die ekstra tyd gebruik vir die belangrikste verhouding in ons lewens nie? Dit kan net voordelig wees vir almal in die gesin.

4. Kinders ontwikkel uithouvermoë wat ook selfvertroue verbeter.

Om verveeld te wees is defnitief nie ‘n lekker ding nie, daarom is kinders se eerste reaksie om ongelukkig te wees en te kla daaroor. Soos wat hulle begin dink aan iets om te doen of soos wat jy hulle lei in die regte rigting in, vat dit uithouvermoë om die gedagtes in aksies oor te sit en te hardloop met die idees. In verveeldheid is daar ook geleentheid vir kinders om nuwe dinge te probeer, sonder die druk van die samelewing of ouers. Dit is in hierdie spasie waar selfvertroue opgebou word en uithouvermoë aangeleer word. Selfvertroue en uithouvermoë is twee baie goeie vaardighede om te hê vir die lewe vorentoe.

5. Dit ontwikkel sosiale en interpersoonlike vaardighede wanneer kinders saam verveeldheid oorkom.

Ek het dit al oor en oor gesien wanneer maatjies kom kuier by my kinders. Daar is altyd ‘n oomblik van verveeldheid in die begin, totdat een van hulle ‘n idee kry en dan word daar op die idee gebou, totdat dit vloei in heeltemal ‘n ander speletjie. Albei kinders leer hierdeur om by te dra, op te offer, te gee en te ontvang.  Baie belangrike interpersoonlike vaardighede  ontwikkel  wanneer kinders saam verveeld is. Dit is so lekker om te sit en te kyk hoe die kinders ontwikkel. Daar is gewoonlik konflik betrokke wanneer maatjies saam kuier, maar dit is ook ‘n goeie geleentheid om te leer hoe om konflik te hanteer.  

Afsluiting

Soos wat ons in al hierdie redes kan sien, is dit baie goed vir ons kinders om verveeld te wees en verveeldheid te oorkom. Daar mag dalk ‘n bietjie inspirasie en leiding van ons kant af benodig word, maar daar is soveel vaardighede wat in ons kinders ontwikkel in hierdie tyd van verveeldheid, dat dit absoluut die moeite werd is.

Ek daag jou uit om die volgende keer wanneer jou kind vir jou sê: “Mamma/Pappa ek is soooo ‘bored’”, net bietjie terug te gaan sit met ‘n lekker koppie koffie en te kyk wat gebeur.

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin
Share on whatsapp
Share on pinterest
Share on email
Share on tumblr

Leave a Reply

Your email address will not be published.